News

Baal reguit, baal beter

Met sy reguitlyn-ontwerp, soortgelyk aan dié van ’n groot blokbaler, bied die MF 1839-vierkantbaler definitiewe voordele aan voerprodusente.

Dié doeltreffende, betroubare baler, wat deur Barloworld Agriculture versprei word, lewer buitengewoon kompakte bale en baal gewasse wat wissel van lusern en koringstrooi tot mieliereste met gemak.

Omdat die opteller en baalkamer albei direk agter die trekker geplaas is, volg voer ’n korter, reguit pad. Dit sorg dat materiaal in veel digter, stewiger bale omskep word (teen 100 stamperslae per minuut) en dat daar ook teen ’n hoër spoed gebaal kan word.

Die baler se twee meter wye, sentraalgemonteerde opteller loop laag op die grond en sy tande is naby mekaar geleë, sodat materiaal skoon opgetel en ingevoer word – sonder vermorsing en met die minimum skade. Stelwiele sorg dat die opteller deurgaans op presies die regte hoogte werk.

Aangesien die bale so dig saamgepers word, beperk dit die verlies van voedsame blaarmateriaal. Bale verloor ook nie hul vorm so maklik soos sommige ander vierkantbale nie en hanteer makliker.

Boonop word op vervoer bespaar, aangesien die kompakter bale swaarder is. Meer ton voer kan dus op ’n vragmotor of sleepwa gelaai word.

Weens sy ontwerp het die MF 1839 minder bewegende dele, wat slytasie en onderhoudskoste verminder. Die reguitlyn-ontwerp vergemaklik ook padvervoer.

Vir meer inligting, kontak jou naaste Massey Ferguson-handelaar of skakel Eric Abrahamse van Barloworld Agriculture by 011 898 0440.