News

Nuwe Masseys vir wingerde, boorde

Die nuwe MF 3640 GE van 61 kW beskik oor al die jongste trekkertegnologie om wingerdmeganisasie te vergemaklik.

‘n Nuwe generasie wingerd- en boordtrekkers van Massey Ferguson is in Suid-Afrika bekend gestel. Dié trekkers, wat deur Barloworld Agriculture versprei word, is doelgemaak vir plaaslike behoeftes en ontwerp vir ratse, robuuste werkverrigting en gerief.

Twee veeldoelige vierwielaangedrewe modelle is beskikbaar: die MF 3625 GE van 51 kW, ’n platformmodel van 51 kW met ’n lae profiel wat dit ook geskik maak vir werk onder vrugtebome en druiwepriële en in tonnels, en die MF 3640 GE, ’n kajuittrekker van 61 kW vir spuitwerk en ander take wat meer krag verg.

Met ’n buitewydte van so min as 1,15 meter, met die toepaslike bandgrootte, is hierdie trekkers ideaal vir klein spasies en smal rye, sê Heinz Anderson, streekbestuurder van Barloworld Agriculture in die Wes-Kaap. Daarby sorg die SuperTurn-vooras vir ’n baie kort draaisirkel wanneer in en uit rye beweeg word.

“Die trekkers se kort wielbasis, hoë krag-tot-gewig-verhouding en lae swaartepunt help verseker trekkrag, beweeglikheid en stabiliteit, ook teen skuinstes.”

Die Tier III AGCO Power-enjins is ontwerp vir hoë kraglewering, hoër wringkrag teen lae revolusies en lae brandstofverbruik. ’n Betroubare transmissie met 12 vorentoe- en 12 truratte dra hiertoe by.

Albei trekkers is toegerus met ‘n onafhanklike tweespoed-kragaftakker.

“’n Pluspunt is die kajuitmodel se hidrouliese olievloei van 62 liter per minuut. Met toenemende wingerdmeganisasie kan dit ook gebruik word vir ander take wat hoë vloei verg, soos om voorsnoeiers te hanteer,” sê Anderson.