News

Die wêreld se nuwe werkesels

Massey Ferguson se nuwe MF 4708 van 61 kW is ‘n staatmaker vir enige taak op die plaas – van sleepwerk en hooimaak tot ploeg en plant.

Meer as vier miljoen Massey Ferguson-trekkers is die afgelope 50 jaar vir die gewilde 45-90 kW trekkersegment vervaardig.

Oor die wêreld heen was hierdie Masseys nog altyd trekkers waarop boere staatmaak, en die nuwe MF 4700-reeks bou voort op hierdie reputasie met innoverende tegnologie vir sy kategorie.

Die MF 4700-reeks is die opvolger van die MF 400-reeks. Met hierdie reeks het Massey Ferguson-ingenieurs die konsep van trekkers onder 100 kW van voor tot agter herontwerp om te voldoen aan die behoeftes van boere – vandag en môre.

Die reeks is ontwerp deur dieselfde ingenieurs wat in Frankryk verantwoordelik is vir Massey Ferguson se bekroonde hoëtegnologietrekkers. Die gevolge hiervan is duidelik sigbaar – wat sowel voorkoms en gerief as werkverrigting betref.

MF 4700-trekkers deur AGCO vervaardig en plaaslik deur Barloworld Agriculture se Massey Ferguson-handelaarsnetwerk versprei.

Die eerste model wat plaaslik beskikbaar gestel is, is die veeldoelige MF 4708. Hierdie trekker spog met ‘n turbo-aangedrewe 4,4 liter AGCO Power-viersilinderenjin wat 61 kW uitskop met ‘n wringkrag van 342 Nm teen 2 200 rpm.

AGCO Power-enjins het plaaslik naam gemaak vir betroubaarheid en brandstofdoeltreffende werkverrigting. Die feit dat sowel die trekker as die enjin van dieselfde vervaardiger afkomstig is, dra by tot groter doeltreffendheid en gehalte-werkverrigting.

Die enjin is ontwerp om ‘n hoë wringkrag oor ‘n wye reeks snelhede te lewer. Maksimum wringkrag word teen ‘n enjinspoed van slegs 1 500 rpm gelewer. Dit help om dieselverbruik te verminder en help beperk ook slytasie van onderdele.

Transmissiekeuse

Die MF 4708 is beskikbaar met twee- en vierwielaandrywing, en met ‘n 8x8-spoed “constant mesh”-transmissie of ‘n 12x12-spoed “synchromesh”-transmissie met gesinchroniseerde heen-en-weer-skakeling. Die twaalfspoed-transmissie bied sewe ratte vir die tipiese werksnelhede van 4 tot 12 km/h, teenoor die agtspoed-transmissie se vier ratte. Die maksimum snelheid van die trekker is 30 km/h.

Die twaalfspoed-model beskik ook oor hidrouliese rem- en koppelaarbeheer en ‘n Hydrolock-ewenaarslot op die 4WD-vooras vir vierwielaangedrewe werkverrigting teen hoër snelhede.

Die MF 4708 het ‘n eenvoudige, oop hidrouliese stelsel met vloei van tot 65 liter per minuut en ‘n onafhanklike kragaftakker, en is toegerus met elektroniese hyserbeheer. Die hysvermoë op die driepunt is drie ton.

Operateursgerief

Die trekker is ontwerp vir produktiwiteit, ook wat die operateursomgewing betref. Die MF 4708 se platform is heeltemal herontwerp met die klem op gerief en die gemaklike beheer van alle trekkerfunksies.

Die wiele kan teen tot 55% draai, wat die trekker baie beweeglik maak en geskik om in kleiner ruimtes te gebruik.

MF 4708 – in ’n neutedop

  • Brandstofdoeltreffende AGCO Power-viersilinderenjin
  • 8x8-spoed “constant mesh”-transmissie of 12x12-spoed “Synchromesh”-transmissie met gesinchroniseerde heen-en-weer-skakeling
  • 2WD of 4WD
  • Maklike toegang vir versiening
  • Gerieflike operateursomgewing
  • Elektroniese hyserbeheer
  • 540 rpm onafhanklike kragaftakker
  • Een bykomende aftappunt
  • Oop hidrouliese stelsel