News

Eenstop vir hooimaak

Met die toevoeging van hooimaaktoerusting tot sy produkreeks bied Barloworld Agriculture boere nou ʼn volledige hooimaakoplossing uit die Massey Ferguson-stal: trekkers (met laaigraaf-opsies), tolsnyers, hooilugters, rotorharke, vierkant- en blokbalers asook ’n selfaangedrewe platsnyer.

Die bekende FELLA-hooimaaktoerusting is ten volle geïntegreer in die AGCO-groep ná ʼn 100%-oorname in 2011. Dit maak dit vir Barloworld Agriculture moontlik om hooimaakoplossings wat gekenmerk word deur betroubare, robuuste en presiese werkverrigting onder die Massey Ferguson-handelsmerk beskikbaar te stel.

Die tolsnyerreeks bied ’n doeltreffende, ekonomiese oplossing vir boere en kontrakteurs. Kenmerke van dié robuuste snyers sluit onder meer gepatenteerde aandryfbeveiliging in.

Die reeks bestaan uit twee driepuntmodelle met werkwydtes van 2,55 en 2,82 meter en ’n sleepmodel met ’n werkwydte van 3 meter. Die snyers is beskikbaar met of sonder kneuser afhangend van model. Die 2,55 m driepuntmodel kan byvoorbeeld as ’n standaardsnyer gekoop word, maar is reeds aangepas vir die opsie om op ‘n later stadium ‘n rollerkneuser te monteer.

Twee enkelrotorharke is beskikbaar met werkwydtes van 3,6 en 4,5m. Dié harke, wat op die driepunt gemonteer word, is ontwerp om groot hoeveelhede materiaal in presiese windrye bymekaar te hark. ’n Semi-gemonteerde dubbelrotorhark met ’n werkwydte van 7,6 meter is ook beskikbaar vir groter produktiwiteit.

Die hooilugter (“tedder”) het ’n werkwydte van 5,2 m en het onder meer ’n gepatenteerde selfstabilisering-koppelstelsel wat stabiliteit verseker wanneer gewerk word en met vervoer – ook teen hellings.

Massey Ferguson se nuwe selfaangedrewe WR 9760-platsnyer word in AGCO se Hesston-fabriek in Amerika vervaardig. Hesston het in 1955 landbou se eerste selfaangedrewe platsnyer vervaardig en die jongste Hesston-tegnologie verseker die vinnige, doeltreffende, ekonomiese platsny van enige gewas – van lusern en gras tot kuilvoermielies en koring.

Die WR 9760 word deur ’n AGCO Sisu Power-enjin van 140 kW aangedryf en is beskikbaar met ’n snykop of “draper”-tafel. Eienskappe sluit onder meer in: veiligheidstelsels soos ’n positiewe skyfremstelsel; hidrouliese flottasie aan die kante van die snykop, sodat dit nooit aan die grond raak nie; ’n hidrouliese verkoelingstelsel met ’n outomatiese “reverse”-funksie om die verkoelers en waaierskerm skoon te hou; en die snykoppe kantel nie net op en af nie, maar ook sywaarts, vir groter doeltreffendheid teen hellings.

Wat baaltoerusting betref, het Massey Ferguson se vierkantbaler met sy reguitlyn-ontwerp en die groot blokbaler met sy hoëkapasiteit-werkverrigting reeds hul staal dubbel en dwars in plaasllike toestande bewys.

Uithaler-hooimaaktoerusting – alles uit een stal.