News

Bewaringsbewerkingplanter help boere om saam met die natuur te werk

Egon (links) en André Schulenburg van Coligny by een van hul MF 715-planters.

Die Schulenburgs van Cyferfontein by Coligny het twee jaar gelede na bewaringsbewerking oorgeskakel om vogverlies, spoelskade en winderosie te bekamp en produksie te verbeter. “Jy moet saam met die natuur werk om volhoubaar te boer,” sê Egon Schulenburg.

Egon het in die tagtigerjare al begin met deklaagbewerking en om net te ploeg as hy moet. Vandag pas hy en sy seun André bewaringsbewerking toe op 1 500 hektaar en plant hulle 1 200 hektaar mielies, 100 hektaar sonneblom en 200 hektaar soja op ’n wisselboustelsel.

Hiervoor word drie MF 715-planters gebruik. Die planters is toegerus met penne wat 150-200 mm diep werk om die sanderige leemgrond (met sowat 15% klei) in die saadvoor los te maak. “Ons kan reeds sien dat die grond losser is en die doel is om oor ’n paar jaar slegs kouters te gebruik,” sê Egon.

Die Schulenburgs is lojale Massey Ferguson-boere, maar het baie huiswerk gedoen voordat op MF-planters besluit is. “Bewaringsbewerking begin by die regte planter en die MF-planter is ontwerp deur iemand wat weet presies wat hy doen,” sê Egon.

“Dis ’n swaardiensplanter wat die penne wat ons nou gebruik kan hanteer. Dié penne sal in die toekoms vervang word met kouters. Die voorsnykouters van 22 duim sny maklik deur oesreste. Danksy die ontwerp en lengte van die plantereenheid pak materiaal ook nie saam nie, wat oponthoude weens blokkasies verder uitskakel.”

Daarby is die saaduitmeetstelsel absoluut akkuraat. “As ons 28 000 pitte per hektaar wil neersit, doen die planter dit, en teen die regte spasiëring.”

Die planters verg minimale laekoste-instandhouding. “Hulle gebruik byvoorbeeld standaardlaers wat goedkoop en algemeen beskikbaar is,” sê Egon.

Die planters word getrek deur drie MF 8480 trekkers van 210 kW. Met die oorskakeling na minimumbewerking het die Schulenburgs die meganisasievereistes vir hul graanboerdery afgeskaal na drie groot trekkers, een selfaangedrewe spuit en ’n stroper, wat vir groot besparings op die lang termyn sal sorg.

Die voordele van bewaringsbewerking is verlede jaar deeglik bewys toe hulle in droogtetoestande ’n mielie-opbrengs van tot 2,5 ton per hektaar behaal het teenoor opbrengste van so min as 500 kg per hektaar in die omgewing.

Jy kry net een kans om te plant en moet die regte ding op die regte tyd doen, sê Egon. “Ons Massey Ferguson-toerusting beantwoord absoluut aan die doel waarvoor ons dit gekry het.”