News

Massey is melkboer se regterhand

Saam met Massey Ferguson by Brandkop Boerdery, Oesterbaai. Van links is: Soggie Beer van Beer Trekkers, Elliot Ntityana, Zolani Jack, Arrhur Loretz, Conrad Dreyer en Gudmen Mncuno.

As jy elke dag 1 500 koeie melk, moet jy altyd ’n plan B hê – en die mees betroubare toerusting wat jy kan kry. Dit is waarom Brandkop Boerdery by Oesterbaai in die Oos-Kaap op Massey Ferguson-trekkers gestandaardiseer het.

Vennote Conrad Dreyer en Arthur Loretz is reeds die afgelope 30 jaar in die melkbedryf. Tans melk hulle meer as 1 500 koeie en hou ook 350 vleisbeeste aan. Om al dié diere 365 dae van die jaar in optimale kondisie te hou verg fyn voetwerk met weiding en voer.

Brandkop Boerdery se koeie loop op 950 hektaar aangeplante weiding en die beeste op natuurlike weiding, en in die droë somers van die Oos-Kaap en wanneer ingeplan word onder besproeiing kry die koeie ook addisionele voer.

Vir die aangeplante weiding word raaigras ingeplant op 350 hektaar kikoejoeweiding onder besproeing, terwyl ’n mengsel van raaigras en hawer op 600 hektaar droëland geplant word. Voor elke inplanting en ná elke derde beweiding (elke 63 dae) word aangeplante weiding met ’n bossiekapper gekap om van kikoejoemat ontslae te raak. Daarby maak kontrakteurs 1 250 ton mielie- en korogkuilvoer en 2 000 rondebale wat vier maande van die jaar afhangende van die seisoen hanteer moet word.

Om dié besige program baas te raak word Brandkop Boerdery se vloot Massey Fergusons, wat wissel van ouer MF 290-platformmodelle tot drie MF 5400-kajuittrekkers, vir elke denkbare taak ingespan: van die plant van weiding en die sleep van bossiekappers tot laaigraaf- en algemene sleepwerk.

Laaigraaf-gesukkel iets van die verlede

Twee MF 5445-trekkers van 70 kW, wat toegerus is met ’n Dyna-4-transmissie met koppelaarlose vorentoe-en-tru-skakeling, word gebruik om bale en kuilvoer te voer en hanteer.

Die Dyna-4-transmissie met sy 16 vorentoe- en 16 truratte wat in die ry met ’n Power Control-hefboom langs die stuurwiel gewissel word, maak dit ideaal geskik vir die heen-en-weer-werk met ’n laaigraaf, sê Arthur Loretz. “Daar is nie ’n koppelaar wat jy heeltyd seermaak nie en dis ’n vinnige, gladde operasie wat tyd en ook brandstof bespaar. Met hierdie trekkers is enige gesukkel met ’n laaigraaf iets van die verlede.”

‘n MF 5460 van 85 kW, wat ook met ’n Dyna-4-transmissie toegerus is, sleep onder meer die fynsaadplanter wat gebruik word om weiding aan te plant.

Al drie MF 5400-trekkers het kajuite om die operateurs teen reën en wind en vroegoggendkoue te beskerm.

“Massey Ferguson gee vir ons betroubare toerusting met tegnologie wat ons meer produktief laat werk en brandstofverbruik verbeter, en onderdele en instandhouding is bekostigbaar,” sê Arthur. “Daarby doen Soggie Beer van Beer Trekkers in Port Elizabeth nou al sedert 1997 altyd moeite om ons te help en kon ons nog altyd reken op goeie tegniese ondersteuning.”