News

Massey Ferguson-wydwerkplanters is ‘n wenkonsep

Hendri van Vreden en Rudolph Schoeman (regs) by Rudolph se MF-wydwerkplanter.

Met Massey Ferguson se wydwerkplanters kry jy die beste van alle wêrelde – maksimum produktiwiteit in planttyd en tegnologie wat jou opbrengs en winsgewendheid verhoog.

Twee swaers tussen Middelburg en Hendrina kan hiervan getuig. Elardus Erasmus van Islardu Boerdery en sy swaer Rudolph Schoeman van Christo Schoeman Emds. Bpk. het na een seisoen elk reeds ’n tweede MF-wydwerkplanter bestel. In die toekoms sal elkeen met twee 16-ry-planters die werk van vyf agtryplanters doen.

“Met ’n wydwerkplanter het jy minder trekkers en minder arbeid nodig en het jy beter beheer oor die plantproses,” sê Elardus, wat 2 000 hektaar mielies en 1 000 hektaar soja plant.

Elardus en Rudolph plant albei reeds meer as ’n dekade met MF 555-planters en het dit nie eens oorweeg om na ’n ander fabrikaat te kyk toe hulle wou oorskakel na wydwerkplanters nie. Die rede hiervoor is die MF-uitmeetmeganisme wat met positiewe lugdruk werk. Dit sorg vir presiese saadhantering en akkurate spasiëring en diepteplasing.

“Met Massey Ferguson is jou plantestand doodeenvoudig baie beter as met ander planters,” sê Elardus. “Die spasiëring is absoluut akkuraat en hy plant nie dubbels nie. As ons 50 000 pitte per hektaar wil neersit, 260 mm uit mekaar, doen hy dit presies. Met ’n mielie-opbrengs van sowat 7,5 ton per hektaar skat ek ek wen omtrent 400 kilogram per hektaar.”

Met sy 16-ry-MF 8180-planter (nou die MF 9180) met 76 cm-rywydtes plant hy 90-120 hektaar mielies per dag teenoor 45 hektaar per dag met ’n agtryplanter. Korrelkunsmis word van die planter af toegedien. Die planter bestaan uit twee robuuste agtry-seksies wat vorentoe toevou. “Die toevouproses is eenvoudig en jy hoef ook nie eers al die bakke leeg te maak voor jy die planter toemaak en na die volgende land trek nie.”

Rudolph, wat sowat 2 500 hektaar mielies en soja plant, het sy MF 8816-planter (nou die MF 9816) met rywydtes van 76 cm gebruik om 1 200 hektaar soja te plant. Voorheen het hy ’n fynsaadplanter (“seeder”) hiervoor gebruik. “Plantspasiëring en ontkieming is baie beter en ek het ook beter beheer oor diepteplasing met die MF 8816,” sê hy.

Die MF 8816 skarnier op twee plekke, met ses rye wat vorentoe toevou. Dit het ’n teleskopiese trekstang wat korter word as jy plant sodat die planter so na as moontlik aan die trekker is. Die planter word ten volle hidroulies beheer en ry-eenhede kan uit die kajuit aan- of afgeskakel word. Twee 2 500 liter tenks waarmee gif en entstof of vloeibare kunsmis toegedien kan word, verminder staantyd.

“Hierdie planter is ’n toonbeeld van swaardiens,” sê Rudolph. “Dit het die raam van ’n 24-ry planter en kan baie gewig op die disselboom dra. Leeg of vol, maak dit in minder as minuut oop en toe. Ek het 1 200 hektaar geplant teen gemiddeld 100 hektaar per dag, sonder ’n minuut se probleme.”

Die planters se verskillende seksies kan 15% op en af krink sodat al die ry-eenhede heeltyd in kontak met die grond is vir ’n konstante diepte. Omdat elke seksie sy eie ratkas het, bly saadspasiëring konstant wanneer teen kontoere geplant word.

En natuurlik kan albei swaers boonop staatmaak op die advies en ondersteuning van MF-kenner Hendri van Vreden en die span by Filterdienste op Bethal.

Drie MF-wydwerkplanterreekse is beskikbaar in sleep- en driepuntopsies met 12, 16 en 24 rye en rywydtes van 76 cm of 91 cm afhangend van model. Die driepuntplanters stapel op vir maklike padvervoer.