News

’n Blok van ’n baler

Theo Boshoff by een van sy Massey Ferguson-blokbalers.

Vir ’n hooikontrakteur berus sukses op toerusting waarop jy dag en nag kan staatmaak en wat gehaltebale lewer wat jou klante laat vra vir meer. Vir Theo Boshoff van MB Equipment by Hartswater was Massey Ferguson-blokbalers die antwoord.

Theo, wat self ook boer, het in 2012 begin met kontrakteurswerk en ’n MF 2170-blokbaler gekoop ná jarelange ervaring met Massey Ferguson se vierkantbaler. Verlede jaar het hy ‘n ekstraswaardiensmodel, die MF 2170 XD, bygekry om swaarder bale vir die uitvoermark te maak. In reaksie op aanvraag is hy tans besig om nog ’n XD-baler aan te koop.

Albei blokbalers word getrek deur ’n MF 7499 van 164 kW, wat toegerus met Massey Ferguson se deurlopend wisselende Dyna-VT-transmissie.

Die MF 2170 is só ontwerp is dat daar so min moontlik lading op die trekker geplaas word. Materiaal word in ’n voorperskamer ingevoer en gaan van daar na die baalkamer, wat die gladde, egalige invoer van ’n hoë volume materiaal verseker. 47 stamperslae per minuut sorg vir ’n hoë saampersmomentum en kapasiteit.

Die balers het ’n RotoFeed-funksie vir die vinnige invloei van materiaal en is ook toegerus met ’n RotoCut-funksie indien dit nodig is om materiaal fyner te kerf.
Bale is 2,7 m lank, 1,2 m wyd en 0,88 m hoog.

Baaldigtheid word vanuit die trekkerkajuit beheer, wat help om die baalvorm en -gewig konstant te hou. Deur die dag, wanneer voginhoud laer is, kan die drukking byvoorbeeld hoër gestel word. Ander eienskappe sluit in ’n betroubare dubbelknoopstelsel en ’n hoë grondvryhoogte wat meebring dat die baler maklik oor ongelyke kontoere beweeg en maklike toegang vir onderhoud bied.

Afgesien van die Vaalharts-omgewing sny en baal Theo lusern en koring- en garsstrooi so wyd as Lichtenburg en Brits. Dit is nie net vee en perde in Suid-Afrika en Namibië wat aan sy lusernbale smul nie; hulle word ook oorsee uitgevoer. Koringstrooi en gars word hoofsaaklik vir voerkrale en sampioenplase gelewer.

Kapasiteit
Lusern word 10 m wyd gesny en 1,5 m wyd gehark voor dit gebaal word. Die windrye van’n halfmeter en hoër word dan teen 14-22 km/h gebaal. “Met twee balers baal ons 32 minute aan 17 hektaar lusern onder besproeiing,” sê Theo.

Afhangend van vog en blaarinhoud lewer die MF 2170 ’n lusernbaal van 640 kg teenoor die 700-800 kg per baal van die XD-baler. Met koringstrooi is die gewig 420 kg met die standaard- en 540 kg met die XD-baler

Die MF-baler loop sagter en is meer robuust gebou as sy mededingers, sê Theo. Groter laers by die stamper sorg vir ’n langer lewe terwyl twee stamperarms teenoor die een van sommige mededingers ’n meer kompakte baal waarborg. Onderhoud is minimaal en daaglikse versiening is maklik.

Die XD-model – wat teen 12,5 ton sowat drie ton swaarder is as die standaardmodel, het ’n versterkte baalkamer, ’n groter vliegwiel (wat vir groter slaankrag op die stamper en dus ’n hoër kapasiteit sorg) en ’n sterker waaier by die knoopstelsel sodat laasgenoemde altyd skoon bly en slytasie nie deur stof en ghries veroorsaak word nie.

Bespaar op vervoer
45 van hierdie blokbale kan op ’n vragmotor gelaai word. Die swaarder bale van die XD-baler beteken ook dat ’n skeepsvraghouer sy maksimum gewig van 28 ton kan bereik vir uitvoer. Met ’n MF-blokbaler word geen bale ooit te lig bevind en teruggestuur nie.